Duto Media logo bokant
Duto Media
voorblad

Verse uit die boek

 

Resep

Die reuk vat my terug
na Ouma se kombuis;
aartappels, vleis, rys en pampoen
Daar was niemand in die wêreld
wat dit presies soos sy kon doen…

Dit gaan nie oor hoeveel sout
of hoe lank jy dit kook
dit gaan nie oor die botter
en of jy dit stook

Die resep loop so:
’n bietjie liefde
’n knippie omgee
’n handvol lag
’n milliliter traan

Van alles net genoeg
en selfs die sterkste
sal voor die versoeking swoeg!

- Laurinda le Roux

 

Ma se kombuis

Gebakte koekiereuk
hang nog swaar in die lug.
Ek sit alleen in ma se kombuis
en onthou ’n goue tyd – 
van kindwees …

- Nanje                      

potjiekos

Potjiekos

So tussenin die makeshift hysies,
elke aand voor die etensuur,
dán maak ons vuur.
Om te keer teen die elemente
van koud en starvation,
om te sorg vir oorlewing
van die squatter nation.

Dan … as die vrouens in die potte roer,
dan maak ons kos –
potjiekos my broer.
Nou hoor ek die whaaities maak ook so,
seker by ons gesien wat en hoe.

Shame, dan keer hulle ook seker
teen die koud en die starvation.

- Marius Titus